Oos-Rand: Gautrein blaas nuwe stoom in wa-fabriek
2011/02/09 - Beeld, Salette Cloete
Voor die afskop van die Gautrein-projek was die 54 jaar oue maatskappy Union Carriage and Wagon (UCW) van Nigel besig om vinnig stoom te verloor.
Die vraag na spoorwegwaens wat deur die Gautrein geskep is, het egter nuwe lewe in die maatskappy, die dorp én die omliggende omgewing geblaas.
UCW is vroeg in 2002 deur Bombardier, 'n Britse spoorweg-maatskappy, genader om betrokke te raak by die vervaardiging van die Gautrein-passasierswaens.
Volgens mnr. Guy Melville, finansiële direkteur van UCW, is dele van die waens in Derby, Engeland, vervaardig en na Suid-Afrika verskeep waar dit voltooi is.
Melville sê UCW het 1 200 werkers in diens waarvan sowat 80% uit die omliggende dorpe Nigel, Duduza, Springs en Heidelberg kom.
Voorts is 95 nuwe werkers aangestel wat ook hoofsaaklik van Nigel en die omliggende dorpe afkomstig is.
"Van die 95 werkers is 13 vroue, insluitend een vrou wat in 'n bestuurspos aangestel is.
"Daar is ook twee mense met gestremdhede, asook vakleerlinge, aangestel." |
|
 |
Hy sê sowat R15 miljoen is in die projek belê, waarvan R5 miljoen vir die opleiding van werkers gebruik is.
Hy vertel 17 werkers is na Derby in Brittanje gestuur waar 15 van die waens van begin tot einde vervaardig is. |
|
Een van die Gautrein-waens word in Brittanje op 'n skip gelaai. Dié wa het 1 Desember voorverlede jaar by die Durbanse hawe aangekom. Nou word die waens by die UWC-fabriek in Nigel voltooi. |
Volgens Mel- ville moes die 17 opgeleide werkers met hul terugkeer op hul beurt 68 werkers oplei in al die vaardighede wat nodig sou wees om die projek plaaslik te bedryf.
Bombardier het volgens Melville ook 'n span van Derby gestuur na die maatskappy in Nigel om hier saam met die plaaslike span te werk om seker te maak alles voldoen aan die Britse standaarde.
Melville sê die suksesvolle vervaardiging van die Gautrein-waens sal lei tot verdere geleenthede vir UCW om betrokke te raak by soortgelyke projekte wêreldwyd.
"Danksy al die opgraderingswerk by UCW kan ons nou herstel- en onderhoudwerk aan die waens doen soos wat dit nodig is," sê hy.
Volgens Melville het dit sowat 30 dae geneem om een wa aanmekaar te sit en daar is uiteindelik 81 waens by die aanleg in Nigel gebou. Die hele projek het sowat drie jaar geneem om te voltooi.
Hy sê een van die prioriteite was om op alle vlakke te verseker dat alles voldoen aan die veiligheidstandaarde soos vereis deur wetgewing en die regering.
UCW is deel van die Murray & Roberts-groep. en is in vennootskap met die J&J-groep, wat in 2003 gestig is.
UCW is ook betrokke by gemeenskapsontwikkeling en is onder meer besig om 'n werkwinkel op die been te bring waar werkers en lede van die gemeenskap geleer gaan word om sweiswerk te doen.
back to press coverage
|